WISKUNDE!!! Monster of vriend?

Wiskunde! Noem die woord "wiskunde" in enige gesprek, en jy kry 'n magdom antwoorde en emosies.  Daar is jou groepie wat reken hulle is goed met wiskunde en wat trots vertel van hoe hulle ingewikkelde probleme kan oplos.  Dan is daar die my ouers het my gedwing om wiskunde te vat groepie wat skaam vertel hoe hulle gesukkel het, selfs met ekstra wiskunde klasse.  Dan is daar die groepie wat nie 'n woord se nie.  Die groepie wat wiskunde tot graad 9 deurgeswoeg en permanent gebid het.  Hul het nie kans gesien vir enige verdere stoeiery nie en het liewer die lewe na graad 9 aangedurf sonder wiskunde.  Dit sit soos 'n groot skandvlek op hulle verlede en hulle voel dom en onnosel.

Wat is die ding met wiskunde?  Is almal veronderstel om dit te kan doen, of is net 'n sekere groepie uitverkies?  Het dit werklik te doen met die brein, of het dit te doen met selfvertroue en die stigma wat daar aan wiskunde kleef?  En wat is die ding dat meisies swakker is in wiskunde as seuns?

My persoonlike opinie is dat die meeste van ons wel wiskunde kan doen, maar sommige van ons glo nie dat ons kan nie.  Miskien het 'n onderwyser eendag iets vir jou gese toe jy swak gedoen het in 'n toets.  Miskien het jy van kleins af gehoor dat seuns beter is met wiskunde as meisies.  Miskien het mense van vroeg in jou lewe vir jou vertel hoe moeilik wiskunde is.  Hoe dit ook al sy, ons moet die stigma rondom wiskunde afbreek.  Met harde werk is enige iets moontlik.

So hoe gemaak om wiskunde punte te verbeter?  Eerstens: glo, glo, glo.  Glo dat jy in staat is om dit te kan doen en dat jy dit goed sal kan doen.  Breek die negatiewe stigma rondom wiskunde in jou lewe af.  Begin om jou wiskunde te verbeter deur "brain games" te speel.  Speel Sudoku, Rummikub, Tangram en die magdom brein speletjies wat op die internet beskikbaar is.  So bou jy jou selfvertroue en ontwikkel jy jou brein om anders te begin dink.  Maak seker jy verstaan wat die onderwyser se.   Mens voel altyd stupid om vrae te vra, maar doen dit tot jy verstaan.  Vir kinders met ADD/ADHD is dit  'n goeie ding om ekstra wiskunde klasse te neem sodat mens seker is hy verstaan.  Laat jou kind van jongs af Kumon doen.  Dit bou sy selfvertroue en leer hom waardevolle wiskunde tegnieke.  Om wiskunde te leer is oefening, oefening, oefening.  Som jou formules en teorie op flitskaarte op, en maak seker jy verstaan dit en ken dit.  Dan werk jy vraestelle deur vir 'n vale.

En ouers, wees positief oor wiskunde.  Moenie van jongs af die idee skep dat wiskunde moeilik is nie.  Skep 'n vriend en nie 'n monster nie.

Groete

Comments

Popular Posts