Tuisskool vs privaat skool vs gewone skool

Gister het ek die voorreg gehad om een van die vooraanstaande privaat skole in die noorde van Johannesburg te besoek.  Dit was voorwaar 'n ondervinding. Veral as ek dit vergelyk met my ou skool waar ons vir ure in die son moes bak onder die daklose pawiljoen.  Daar was nerens 'n swembad in sig nie, so as jy wou afkoel, moes jy maar in die L.O. periode deur die sproeiers hardloop.  Ons het verkool in die tydelike klasse en moes deur die modder swoeg in die reenseisoen.  Beslis nie 'n vyfster skool nie.

In vandag se dae is daar heelwat opsies wat jou kind se skoolopleiding aanbetref.  Elke ouer wil die beste vir sy kind he en die meeste glo die beste beteken 'n privaat skool.  Die klasse is kleiner, die onderrig meer intensief en die geleenthede is groter wat akademie aanbetref.  Maar baie ouers voel dat hulle kinders nie dieselfde geleenthede op die sportveld kry wanneer hulle in 'n privaat skool is nie.  Die muntstuk het twee kante.  In 'n kleiner privaat skool is die kanse makliker dat jou kind 'n sport uitblinker kan wees.  Daar is minder kompetisie van ander leerlinge en die sport geriewe is gewoonlik baie beter.  Maar aan die ander kant wil baie ouers hulle kinders in tradisioneel sterk sport skole sit.  As jou seun byvoorbeeld rugby speel, gee Affies, Waterkloof of Grey college vir hom goeie blootstelling.

Baie mense is onder die indruk dat die akademiese standaarde by gewone skole baie laer is as die by privaat skole.  Maar uit ondervinding weet ek dat dit nie die geval is nie.  Hier kan mens weereens name noem soos Affies, Waterkloof, Grey college en vele ander waar die akademiese standaard baie hoog is.

Dan is daar die kwessie van tuis onderrig.  In Suid-Afrika is tuis onderrig besig om toe te neem onder kinders van alle tale en rasse. Die vrees wat baie mense rondom tuisonderrig het, is die sosiale ontwikkeling van hulle kind.  Hierdie kwessie is egter besig om te verdwyn aangesien daar 'n magdom geleenthede vir tuisskolers bestaan waar hulle op 'n daaglike basis sport kan beofen en sosiaal kan verkeer.   Ek het met 'n aantal ouers gesels wat hulle kinders tuisonderrig gee en hulle menings was baie interessant.  Hulle gee onder andere die volgende redes hoekom hulle tuis onderrig gee:

  • Boelies.  Heelwat van die kinders was vir 'n tydperk in gewone of privaat skole waar hulle die teikens van boelies was.  Volgens die ouers was hierdie boelies nie net mede-leerlinge nie, maar ook onderwysers wat hul kinders geteiken het en emosioneel afgekraak het. Heelwat ouers noem hoe hulle kinders se persoonlikhede totaal verander het in die skool.  Die kinders het teruggetrokke geword en hul selfbeelde het baie skade gely.
  • ADD/ADHD.  Volgens sommige van die ouers kon hul kinders wat ADD/ADHD simptome het, nie in die skool mileu aanpas nie. Veral in vakke soos wiskunde het die kinders gou agter geraak aangesien hulle nie die onderwyser kon volg nie.  In 'n klas situasie is dit vir  die onderwysers onmoontlik om individuele aandag aan elke kind te gee.
  • Morele waardes en geestelike kwessies.  Ouers voel dat skole (privaat en gewoon), se morele standaarde baie gesak het.  Volgens hulle is baie meer dinge vandag toelaatbaar (soos die manier waarop met onderwysers gepraat word), as voorheen.  Hierdie ouers wil nie hulle kinders blootstel aan die morele verval in die samelewing nie, veral nie in die kinders se vormingsjare nie.  Dan is daar ook ouers wat voel dat geloofskwessies 'n groot rol in hulle besluit geneem het.  Ouers van verskillende gelowe wil hulle kind grootmaak volgens die riglyne van hulle geloof en hulle vrees dat blootstelling aan ander gelowe hulle kind geestelik kan verwar.
  • Akademiese standaarde en individuele aandag.  Ouers glo dat skole se akademiese standaarde baie laag is en dat dit onmoontlik is vir hul kind om behoorlik onderrig te word in 'n groot groep.  
Die keuse van onderrig vir jou kind is 'n moeilike een.  Elke onderrig metode het sy meriete en het voor en nadele.  Die belangrikste is dat jou kind gelukkig moet wees en die beste onderrig kry wat sy ouers kan bekostig.

Groete

Comments

Popular Posts