Rekenaarspeletjies en my kind

Menigte debatte tussen ouers en kinders is al gevoer oor hierdie onderwerp.  Die gewraakte rekenaarspeletjies! Is dit goed vir my kind om rekenaarspeletjies te speel?  Gaan dit hom aggressief maak?  Is dit nie beter vir hom om eerder boek te lees nie? Het rekenaarspeletjies enige nut?

Wie onthou nog Pac-Man, Super Mario Brothers, Donkey Kong en Mortal Combat?  Of die klein "handheld" speletjies met die swart en wit grafika.  Hierdie speletjies het nie baie breinkrag geverg nie.  Al wat eintlik nodig was, was goeie reflekse en baie tyd.  Hierdie speletjies is die verwysingsraamwerk waarmee baie ouers vandag nog na rekenaarspeletjies kyk.  Dinge het egter baie verander.  Gaan kyk net na die Apple store of die google play store.  Daar is miljoene speletjies om van te kies en te keur.  En tik jy "educational games" in by die soekenjin, kry jy opvoedkundige speletjies vir kinders van alle ouderdomme.  Hierdie speletjies verg breinkrag, ruimte vaardighede, redenering en strategiese denke.  Ek dink byvoorbeeld aan speletjies soos Fit Brains, Angry Birds, Flow Free, Luminosity, Genius kids en Crazy Valet.  Speletjies soos SimPhysics leer die beginsels van fisika op 'n prettige manier en Mensa Academy ontwikkel die brein op alle vlakke.

Maar wat van 'gewone' speletjies? Soos byvoorbeeld die oorlogspeletjies waarvoor seuns so lief is, of die mode ontwerp speletjies wat dogtertjies geniet?  Bied dit enige voordeel vir my kind? Die beste manier om daardie vraag te beantwoord, is om self die tyd te neem om die speletjie saam met jou kind te speel.  Oorlogspeletjies (maak net seker van die ouderdoms beperking, taal en vlak van geweld), bied aan kinders die geleentheid om strategies te dink en ontwikkel die kind se probleem oplossingsvermoe.  Dit is veral geskik vir kinders vanaf 16 jaar.  Mode ontwerp speletjies ontwikkel kreatiwiteit  en "uit die boks" denke. In elke speletjie is daar doelwitte wat bereik moet word.  Kinders leer om hierdie doelwitte na te jaag en aan te hou probeer totdat hulle dit regkry. 

Maar rekenaarspeletjies kan ook sy nadele he.  Wanneer 'n mens rekenaarspeletjies speel, skei die brein endorfiene af wat kan veroorsaak dat die kind sukkel om op te hou speel.  Ouers moet grense stel.  Te veel van enige ding is nie goed nie.  Wees streng oor hoe lank jou kind die speletjies mag speel.  Die heel belangrikste egter is om te weet watter speletjies daar buite is.  Nie alle speletjies is goed nie, en die temas en inhoud kan baie skadelik wees vir jou kind.  Wees bewus van hierdie aspekte en monitor jou kind se speletjies.  Laat hy liewer in 'n oop vertrek speel as in sy kamer, sodat jy seker kan wees hy speel nie speletjies wat skadelik vir hom kan wees nie.  Rekenaarspeletjies het, net soos flieks, ouderdomsbeperkinge.  Wees bewus hiervan en gebruik jou oordeelsvermoe.

Wat aggressie en rekenaarspeletjies betref is dit my opinie dat ouderdomstoepaslike speletjies nie aggressie by kinders veroorsaak nie.  Dit is eerder 'n manier om van oortollige frustrasie en aggressie ontslae te raak.  As jou kind egter nog klein is, of nie die vermoe het om tussen die werklikheid en fantasie te onderskei nie, wees maar eerder versigtig.

In my opinie kan rekenaarspeletjies bydra tot 'n kind se breinontwikkeling en kan dit op die ou einde 'n positiewe impak op sy skoolwerk he.  Mits hy die regte speletjies speel en nie soveel tyd daaraan spandeer dat sy skoolwerk, gesinsverhoudinge, sosiale ontwikkeling en fisiese ontwikkeling negatief daardeur beinvloed word nie. 



Comments

Popular Posts