Mag ek namens my kind opsom?

'n Ma is 'n besige  wese.  Daar is elke dag so baie om te doen en so min tyd om dit te doen.  'n Ma weet hoe om baie dinge baie vinnig te doen. Wanneer dit kom by skoolwerk en leerwerk, sal 'n ma enige iets doen om die proses vinniger te laat verloop.  Soos om gou namens boeta op te som, terwyl hy sy huiswerk doen of op die sportveld rondhardloop.  Jy help hom mos deur dit te doen, of hoe?

Wanneer jy vir jou kind opsom, spaar jy dalk tyd op die kort duur, maar dit is al voordeel.  Opsom is deel van die leerproses.  Dit gee die kind geleentheid om sy werk deur te lees, die sleutelwoorde te identifiseer en die belangrikste punte op papier neer te skryf.  Dus, wanneer jy namens jou kind opsom, ontneem jy hom van drie leergeleenthede. 

Assosiasies is sekerlik die belangrikste aspek in opsommings. Elkeen van ons is uniek en ons doen dinge op ons eie manier.  Ons breine maak verskillende assosiasies van dieselfde ding wat ons sien.  Kom ons neem 'n praktiese voorbeeld. Dink byvoorbeeld aan jou gunsteling fliek.  Stel jou voor jy moet 'n prent teken om jou gunsteling fliek voor te stel.  Vra dan jou gesinslede om ook 'n prent te teken van jou gunsteling fliek.  Vergelyk dan die prente met mekaar.  Elkeen se prent is uniek, want elkeen se brein maak unieke assosiasies.  Daarom is dit belangrik vir elke kind om sy eie opsommings te maak omdat sy brein nie noodwendig die assosiasies sal verstaan wat jy maak wanneer jy sy werk opsom nie.

Om namens jou kind op te som, ontneem jy hom nie net van leergeleenthede en die vermoe om assosiasies te maak en te verstaan nie, maar jy steel ook sy selfvertroue.  Wanneer iets vir 'n kind gedoen word wat hy self kan doen, word die idee by hom geskep dat hy dit nie kan doen nie.  Dat hy te dom of stadig is om dit self te doen.  Wanneer hy eerder gemotiveer word om self op te som (en hy deur volwassenes gelei word oor hoe om dit te doen), word sy selfvertroue gebou en leer hy om dinge self te doen. Selfvertroue het op die ou end ook 'n positiewe inpak op sy punte.

Dit vat natuurlik langer wanneer die kind self opsom.  Die beste is om 'n tyd uit te boek oor 'n naweek om opsommings te doen.  Weeksdae is net te dol en die huiswerk en sport is net te veel.  Kies 'n tyd oor 'n naweek om rustig op te som wanneer daar nie 'n gejaag is nie.  So is opsommings deel van leer en gaan die kind makliker die werk onthou.

Indien jy self nie seker is hoe jou kind moet opsom nie, en veral as jy nie weet wat sy leerstyl is nie, bring hom gerus vir 'n studie kursus.  Kontak Mariana by 072 265 9639 of email by mariana.sutton@gmail.com vir 'n afspraak.

Comments

Popular Posts