Hoe beinvloed emosionele kwessies my skoolprestasie?

Onlangs het ek 'n studie kursus aangebied vir 'n tienerseun wat akademies swak vaar en graag sy skoolpunte wil verbeter.  Volgens die verwysing weet hy nie hoe om te studeer nie, en sal dit help as hy 'n paar "tips" kan kry.  Soos wat die sessie gevorder het, het ek besef dat ek te doen het met meer as net slegte leergewoontes.  Ons studie kursus het ontaard in 'n terapie sessie waar die seun sy hart uitgestort het oor dinge in sy lewe wat skeefgeloop het.  Huislike probleme, verwerping, eensaamheid, om net 'n paar te noem. Dit het my laat besef dat hy soveel emosionele laste dra, dat dit geweldig moeilik is vir hom om te fokus op sy skoolwerk.

So, is daar 'n verband tussen negatiewe emosies en swak skoolprestasie?  Verseker!  Dit is vir enige mens moeilik om te fokus op sy werk wanneer daar dinge in sy binneste is wat krap.  Selfs positiewe emosies, soos om verlief te wees, neem ons fokus weg van wat ons veronderstel is om te doen.  Een emosionele aspek waarmee ek baie te doen kry in die studie metode kursusse, is vrees.  Die vrees vir mislukking, die vrees om ouers teleur te stel, die vrees om die "domste" in die vriendekring te wees.  Dit is verbasend hoe een swak punt op 'n toets sulke vrees in 'n kind kan skep dat hy vir die res van sy skoolloopbaan nooit sy volle potensiaal kan bereik nie.  Hy vrees elke toets, elke uitslag, elke reaksie van die mense na aan hom. Dit word 'n bose kringloop, 'n doolhof waaruit hy nie kan ontsnap nie.

Swak skoolprestasie lei tot 'n gebrek aan waagmoed, swak selfbeeld, min selfvertroue, angs, vrees depressie, woede, frustrasie, gedragsprobleme en baie meer.

Dan is daar die kwessie van wie was eerste? Die hoender of die eier?  Veroorsaak swak skoolprestasie emosionele probleme? Of veroorsaak emosionele probleme swak skoolprestasie?  My opinie is dat albei daardie stellings reg is.  Die groot kwessie is eerder wat om daarraan te doen.  Wanneer skoolprestasie swak is, moenie net aanneem dis as gevolg van lae IK of slegte leergewoontes nie.  Daar kan baie dinge daaragter skuil.  As ouer moet jy bewus wees van wat in jou kind se lewe aangaan en indien nodig jou kind vir terapie neem voor die probleem buite beheer raak.  Maar onthou ook die ander kant van die saak. Weens slegte skoolprestasie as gevolg van verkeerde leergewoontes kan die kind emosionele probleme ontwikkel. Tree daarom gou op om jou kind te help voordat swak skoolprestasie en emosionele probleme sy lewensvreugde steel en hom ontneem van sy volle potensiaal.

Groete

Comments

Popular Posts