Hoe ONS eksamen geskryf het. Beter of slegter as nou?

Wie onthou die dae voor bloktyd? Toe almal in klasse ingedruk was en jy heeldag in die klas moes sit en leer? Eksamen skryf in die 90's is werelde verwyder van eksamen skryf in vandag se tyd. Ja, die beginsel bly dieselfde, maar die omstandighede verskil hemelsbreed. Bloktyd was beskore vir einde standard nege en vir die matrieks. Die res van ons moes maar by die skool sit en maak of ons leer.  Met die begin van die eksamen is ons ingedeel in klasse. Gewoonlik is die meisies ingedeel saam met seuns van 'n ander standerd. Dan het jy gewoonlik gehoop en gebid dat daai mooi outjie by die tafel langs jou sit. Dan het jy darem iets om voor te loer terwyl jy "leer".  Bloktyd was iets om oor te droom. Om nice te wees en dinge vir ons makliker te maak, het die skool gedurende eksamentyd 'n volle 20 minute vroeer uitgekom! Daar was een pouse en die res van die tyd moes jy sit en leer. 

Om heeldag te sit en leer was nou nie ons idee van pret nie.  Boeke en comics is ingesmokkel en briefies is heen en weer gestuur.  Die sisteem was totaal en al onprakties en onredelik. Om so lank te moes sit en leer en dan nog 'n lang vraestel te skryf, het geen sin gehad nie. Sou daar nie beter presteerders wees as daar meer tyd vir rus en beweging was nie? Een jaar was ons toesighouer in 'n permanente slegte bui. Ons moes heeldag leer, pouses in die klas bly en leer, en dan nog na skool in die klas bly. Ek wonder hoeveel beter ons prestasies sou wees as dinge anders hanteer was. Wat van die ADD/ADHD kind wat nie so lank kon stilsit en fokus nie? Hy is natuurlik uitgekryt as stout en ongeskik. Vertel hy sou nooit erens kom nie. Dis tragies.

Is die sisteem vandag enigsins beter? Of was die ou sisteem wel beter as vandag? 

Comments

Popular Posts