Die ADD/ADHD kind en eksamen

Vir enige kind (en veral vir enige ouer), is die eksamen 'n stresvolle tyd.  Maar vir die ADD/ADHD kind, is eksamen 'n  nagmerrie.  Daar word van hom verwag om doodstil te sit en te konsentreer op sy werk.  En dan nog ook om dit te onthou.  Dis baie gevra.  Daar is egter dinge wat gedoen kan word om die eksamen bietjie minder stresvol te maak.

Die maklikste manier om beter resultate te kry, is om lank genoeg voor die tyd te begin studeer.  So word die werk in die langtermyn geheue gebere en word dit makliker opgeroep en onthou.  Gebruik mnemonics om die werk beter te onthou.  So kan 'n kind wat lief is vir musiek, 'n deel van sy werk in liedjie vorm memoriseer.  Enige bestaande wysie kan gebruik word en solank dit genoeg herhaal word, behoort die werk maklik onthou te word.  Rympies en stories kan net so suksesvol gebruik word.

Vir die visuele ADD/ADHD leerder is kleure baie belangrik.  Gebruik verskillende kleure pen en karton om die werk neer te skryf.  So word die werk met die kleure geassosieer en word dit makliker onthou.

Net memorisering is egter nie goed genoeg nie, die werk moet verstaan word.  'n Wit bord is hier van groot hulp.  Laat die ADD/ADHD die werk vir homself verduidelik op die witbord asof hy 'n onderwyser is wat aan 'n groep kinders die werk verduidelik.

Die leerarea moet vry wees van enige iets wat die aandag kan aftrek.  'n ADD/ADHD se lessenaar moet liefs nie voor 'n venster staan nie en daar moet nie prente of speelgoed naby wees wat sy aandag kan aftrek nie.  Hy moet in 'n stil vertrek leer waar daar nie baie beweging is nie.  Hou liefs troeteldiere uit die kamer en hou dit stil en gemaklik vir die leerder.

Hou die leersessies kort en kragtig.  Vat genoeg breuke tussenin.

Volg 'n lae-gi dieet wat energie geleidelik vrystel.  Vermy kafien drankies en lekkergoed.

Sterkte met die eksamen

Comments

Popular Posts