Help! Dis eksamen tyd. Raad vir leerders en hul ouers

Die meeste van ons het al so 'n nagmerrie gehad.  Jy sit in 'n swak beligte klaskamer, in jou pyjamas terwyl 'n onvriendelike onderwyser vir jou 'n eksamen vraestel uitdeel.  Skielik besef jy in 'n staat van angssweet, dat jy nie een vraag kan antwoord nie.  Jy slaan 'n totale blank en jy weet dat jy nooit hierdie vak sal deurkom nie.  Jy skrik wakker, papnat gesweet maar dankbaar dat dit net 'n droom was.

Eksamens wek intense emosies by elkeen van ons.  Of dit nou stres, vrees, moegheid of frustrasie is, dit is nie maklik om eksamen te skryf nie.  Nie vir kinders nie, en ook nie vir ouers nie.  Wat kan ons dan doen om die eksamen tyd makliker te maak?

Die grootste probleem gedurende eksamen tyd  is die magiese stryd tussen ouer en kind.  Jannie is langtand om te leer en sal enige iets doen om nie voor die boeke te gaan sit nie (selfs sy kamer skoonmaak).  Ma verwag Jannie moet dadelik wanneer hy by die huis kom sy boeke uithaal en begin leer totdat hy die aand gaan slaap.  Met gevolg dat ma en Jannie voortdurend aanmekaar is, wat veroorsaaak dat Jannie nog minder op sy werk kan fokus en dat ma moet gryp na die kalmeermiddels in die medisyne kas. Die antwoord: balans.  Werk saam 'n tydrooster uit wat genoeg geleentheid gee vir rus en vir leer.  Maak die leersessie 'n halfuur tot 45 minute lank en vat 'n 15 minute breuk tussenin. Dink saam aan 'n beloning vir Jannie as hy enduit by die tydrooster hou.

'n Groot bekommernis vir leerders is die vrees om "blank te slaan" en niks te kan onthou wat hy geleer  het nie.  Dis natuurlik 'n bose kringloop en die stres veroorsaak dan dat 'n klomp van die werk in elk geval nie onthou kan word nie.  Goeie voorbereiding is die beste oplossing vir die probleem.  As jy jou werk goed ken, het jy niks om oor te stres nie.  Dit is goed om ook ontspannings oefeninge te doen die oggend voor die vraestel, en om kalm te wees en diep asem te haal wanneer jy met 'n vraag sukkel.   As jy 'n vraag nie kan antwoord nie, los hom eers, en gaan na die volgende vraag.  Kom later terug na die vraag waarmee jy sukkel.

Eksamen tyd is nie maklik nie, maar dis moontlik om die beste van die situasie te maak.  Leer genoeg, rus genoeg en wees aktief.  Eet gesond en drink baie water.  Ontspan en besef dinge kon baie erger gewees het.
Sterkte vir almal met die eksamen

Comments

Popular Posts