Die groot geveg: Hoe om jou kind te help met sy leerwerk sonder om in 'n groot geveg betrokke te raak

NUUT!! Studie metode kursusse vir ADHD en ADD leerlinge.



Sedert die begindae van opvoeding en skool, het een ding dieselfde gebly.  Die groot geveg tussen ouer en kind oor skoolwerk!  Ma wil he dit moet so gedoen word, boetie wil dit anders doen.  Pa verduidelik die wiskunde, sussie stry want juffrou het dit anders verduidelik.  Boetie skryf te lelik na ma se sin, en sussie wil weer te mooi skryf en vat ure om haar werk klaar te kry.  Voor jy jou kan kry is daar 'n geskree en baklei uit 'n ander wereld.  Natuurlik slaan boetie bot toe na die geskree en kan niemand niks verder in sy kop inkry nie.  Hoe kan dit vermy word?

Eerstens is dit belangrik om te besef dat jou kind uniek is en besig is om sy eie persoonlikheid en manier van doen te ontwikkel.  Wanneer 'n ouer 'n baie haastige tipe persoonlikheid het, en die kind het 'n stadige en rustige geaardheid, is konflik nie ver om die draai nie.  Die oplossing is dat almal in die gesin 'n persoonlikheidstoets moet doen om vas te stel wat elkeen se persoonlikheid is (Sien Hettie Britz se persoonlikheidstoetse).  Wanneer elkeen weet wat sy of haar persoonlikheid is, moet almal bewus gemaak word van die ander se persoonlikheidseienskappe, en wat die beste manier is om daardie tipe persoonlikheid te hanteer.  As gesin moet hierdie aspekte bespreek word sodat die gesinslede 'n groter begrip vir mekaar het.  Dit kan huiswerk en leersessies baie makliker maak.

Ouers is grootliks gefrustreerd omdat kinders nie vinnig genoeg hulle werk voltooi, en nie lank genoeg fokus nie.  Hier kan die "timer" tegniek gebruik word.  Kry 'n "timer" (daar is baie oulike timers in die apple store en die google play store wat met kleure vir kinders die tyd aandui) en stel 'n tyd vas vir die voltooiing van elke taak of vak.  Wanneer die kind fisies die "timer" sien, sal hy meer gefokus raak, en word dit 'n speletjie om betyds klaar te wees voor die "timer" afgaan.

Lelike handskrif is ook 'n bron van frustrasie.  Gebruik 'n beloning sisteem vir die jonger kind om hom aan te moedig om mooier te skryf.  Dit is baie meer effektief as om te baklei oor die handskrif.  Plak sterretjies op 'n beloningskaart en beloon die kind met iets wanneer hy 'n sekere aantal sterretjies het.

Die belangrikste is om kalm te bly en te motiveer in plaas van om te kritiseer.  As jy kalm is, sal jou kind kalm wees.  Elke kind is uniek.  Vind uit wat werk vir jou kind en probeer om sover as moontlik die huiswerk en leerwerk in vrede te doen.


Comments

Popular Posts