Seuns vs dogters

Jare lank is ons sekere goed wysgemaak rakende die verskil tussen seuns en dogters.  Onder andere:
Seuns is beter met wiskunde en wetenskap, terwyl meisies beter is met tale.
Seuns sukkel om te leer, terwyl meisies meer pligsgetrou is.
Seuns is tegnies beter aangele as meisies.
Meisies is akademies baie sterker as seuns.

Die probleem met bogenoemde denkwyse, is dat dit so sterk deel geword het van die samelewing, dat almal dit begin glo het. Hoeveel meisies wat dalk 'n aanleg vir wiskunde gehad het, is van kleins af vertel dat meisies nou maar eenmaal nie wiskunde kan doen nie? Hoeveel talentvolle seuns is ontmoedig om dinge soos mode ontwerp of kleuterskool onderwys te doen omdat dit nie in die samelewing se boksie pas nie? 

Hoe kan ek as ouer verseker dat my kind sy of haar volle potensiaal kan uitleef en suksesvol is in sy of haar skoolwerk? Die antwoord begin reeds van jongs af. Moedig jou dogter aan om ook met boublokkies te speel en die werking van dinge te ondersoek. Moedig jou seun aan om kreatief en skeppend te wees. Laat jou dogter video speletjies speel wat haar logies laat dink en laat sy bal speel en groot motories ontwikkel. Kweek by albei 'n liefde vir lees en 'n honger na kennis. Maar die belangrikste is sekerlik ons woorde.  Praat positief oor alle vakke en jou kind se vermoe om hierdie vakke te kan doen. Moenie dinge kwytraak soos:  "Ag jy aard maar na my, ek kon ook nie wiskunde doen nie.", of "Seuns is maar lui en nie goed met tale nie." Daar is krag in woorde. Wees van kleins af positief en motiveer jou kind. Stimuleer hulle breine op alle vlakke en moenie hulle aanlegte, talente en belangstellings onderdruk net omdat dit nie in die samelewing se boksie pas nie. 



Comments

Popular Posts